Search This Blog

Monday 9 May 2016

School Holiday Project 30: Teken & Verf Petra Padda (Draw & Paint Petra Frog)

Ek het onlangs my splinternuwe kinderboek, Tuinstories, bekend gestel. Dit is 'n heerlike ontwikkelde verhaal gerig op die voorskoolse en jong laerskool mark wat die verhale van 'n groepie insekte in die tuin vertel. Die boek is gelaai met intriges en verskeie karakters beleef klimakse en laagtepunte. Dit is ook deurspek van humoristiese insidente en woordspelings. Saam met hierdie boek, het ek ook 'n aktiwiteitsboek beskikbaar gestel waar kinders kan leer om stapsgewys self die karakters te teken en te verf. Altesaam is daar twaalf projekte en elkeen bring iets nuuts na die kind se kunsbelewenis en -ontwikkeling. Daar is ook 'n inkleurboek wat hiermee saamgaan, met 47 sketse uit die boek om self in te kleur. In vandag se blog gee ek julle so 'n kykie in die aktiwiteitsboek wanneer ek die stappe blog om Petra Padda te teken en te verf. Ek sluit ook die blog af met 'n kort uittreksel uit die boek, sodat julle so 'n idee het waaroor die boek gaan en hoe dit lees. Die boeke is beskikbaar in digitale formaat op Amazon.
I have recently launched my brand new children's book, accompanied by an activity book and a coloring book. In the activity book, I give step by step directions that will allow a child to draw and paint the characters themselves. In today's blog, I share these steps for drawing Petra Frog.


Kom ons teken en verf Petra Padda
Stap 1
Wat jy sal nodig hê:
Tekenboek met stewige papier
HB Potlood
Donkerbruin inkleurpotlood
Plat nr. 4 verfkwas
Uitveër
Waterverf:
  • Donkerbruin
  • Ligbruin
  • Rooibruin
  • Mosterdgeel
  • Olyfgroen
  • Swart
  • Donkerblou


Stap 2
Gebruik jou potlood
Probeer om jou prentjie op dieselfde plek op jou papier te teken as die voorbeeld.
Teken ‘n groot ovaal vir Petra Padda se lyf.
Teken nog twee ovale wat een van haar agterpote gaan word.
Teken ‘n halwe ovaal. Dit is die ander agterpoot wat agter haar lyf wegkruip.


Stap 3
Gebruik jou potlood
Teken drie ovale soos in die voorbeeld. Dit gaan een van haar voorpote wees.
Teken nog twee ovale. Dit gaan die voorpoot aan die anderkant van haar lyf wees.


Stap 4
Gebruik jou potlood
Teken nou twee halfsirkels vir haar oë.
Trek ‘n lyn waar haar mond gaan wees.
Teken nou ‘n bolip en ‘n onderlip aan die lyn van haar mond. Kyk na die voorbeeld.


Stap 5
Gebruik jou potlood
Vee nou al die onnodige lyne uit in haar voorpote en haar een agterpoot. Kyk na die voorbeeld as jy nie seker is watter lyne om uit te vee nie.
Daar is ook ‘n onnodige lyn in haar voorste oog wat jy kan uitvee.
Vee die twee lyntjies in haar lippe uit.
Kyk mooi na jou prentjie om seker te maak dat jy al die verkeerde lyne uitgevee het. Kyk nou om seker te maak dat al die regte lyne nog daar is. As jy per ongeluk ‘n lyn uitgevee het, kan jy hom gou weer inteken.


Stap 6
Gebruik jou potlood
Teken die voorste oog se ooglid. Teken ook die swart kolletjie in die oog. Hierdie kolletjie word ‘n pupil genoem.
Teken twee neusgate.
Teken die plooie onder haar ken.


Stap 7
Gebruik jou potlood
Petra Padda sit langs die dam tussen rotse en riete. Ons gaan nou begin om die agtergrond te teken.
Trek ‘n lyn reg onder haar waar die dam se water begin. Haar een voet kan maar so half in die water wees.
Teken ‘n paar rotse voor haar, onder haar en agter haar. Kyk na die voorbeeld.


Stap 8
Gebruik jou kwas en mosterdgeel verf
Nou moet ons eers besluit waar die son vandaan kom. Kom ons sê hy skyn van regs af. Alles wat na daai kant toe kyk, gaan ligter wees, omdat dit in die son is. Alles wat agter hierdie verligte goed staan, sal donkerder wees, want dit is in die skaduwee.
Verf nou Petra Padda se ligste plekke mosterdgeel. Kyk mooi na die voorbeeld.


Stap 9
Gebruik jou kwas en rooibruin verf
Nou gaan ons die res van haar lyf rooibruin verf. Probeer om in die rigting van haar lyf se lyne te verf.
Wees versigtig om nie oor jou geel te verf nie.


Stap 10
Gebruik jou kwas en donkerbruin verf
Ons gaan die donkerste plekke op Petra Padda se lyf donkerbruin verf. Kyk na die voorbeeld en verf al hierdie plekke:
  • Die streep op haar lyf;
  • Die voue onder haar ken en op haar bene;
  • Haar vratte;
  • Haar lippe;
  • Die een helfte van haar agterste oog.
  • Die dele van haar lyf wat in die skaduwee is.


Stap 11
Gebruik jou kwas en swart verf
Nou moet jy baie versigtig verf, want dis fyn werk.
Verf haar oog se swart kolletjie (die pupil).
Verf haar neusgate swart.


Stap 12
Gebruik jou kwas en ligbruin verf
Ons gaan nou begin om die rotse te verf.
Verf al die kante wat na die son toe wys ligbruin.
Rotse is grof en ongelyk en daarom moet ons verfwerk ook so lyk. Jy moet sommer in al die verskillende rigtings verf. Kyk mooi na die voorbeeld. Kan jy sien in watter rigtings ek geverf het?


Stap 13
Gebruik jou kwas en donkerbruin verf
Verf nou die skadukante van jou rotse met donkerbruin verf. Kyk weer mooi na die voorbeeld.


Stap 14
Gebruik jou kwas en rooibruin verf
Ons rotse lyk nog nie baie regtig nie. Daarom gaan ons bietjie rooibruin verf tussen die ligbruin en die donkerbruin. Jy kan sommer so oor die ander kleure verf.


Stap 15
Gebruik jou donkerbruin inkleurpotlood
Wag tot jou papier droog is, sodat jou potlood nie die sagte nat papier skeur nie.
Trek nou al Petra Padda se lyne weer oor met jou donkerbruin potlood.
Trek ook al jou rotse se lyne weer oor met die donkerbruin potlood.


Stap 16
Gebruik jou kwas, donkerblou verf en olyfgroen verf
Petra Padda hou van slymerige groen water in die dammetjie. Verf die dam se water met lekker los hale. Gebruik jou blou en jou groen verf deurmekaar.
Pasop dat jy nie al die wit van die papier toeverf nie. Die wit papier lyk soos die son se lig wat op die water reflekteer.


Stap 17
Gebruik jou kwas, mosterdgeel verf en ligbruin verf
Verf nog lekker los hale met jou kwas waar die grond is. Verf die mosterdgeel en ligbruin deurmekaar net soos jy met die water gedoen het. Onthou om wit te los.


Stap 18
Gebruik jou kwas en verf (mosterdgeel, olyfgroen, ligbruin, donkerbruin)
Draai jou kwas op sy kant, sodat jy lekker dun strepe kan verf. Ons gaan nou die riete verf.
Verf ‘n paar ligbruin strepe.
Verf ‘n paar olyfgroen strepe tussen die ander.
Verf nou ‘n paar donkerbruin strepe tussen-in.
Laaste verf jy ‘n paar mosterdgeel strepe tussen die ander.

Onthou om wit te los tussen-in.


Hier volg dan nou 'n kort uittreksel uit die boek:
 Petra Padda het op ‘n warm klip gesit en sonbad. Sy was besig om haarself te verlekker in hoe rustig die lewe is toe ‘n skaduwee skielik oor haar swiep. ‘n Sappige vlieg sou darem nou goed afgaan. Sy het haar tong uitgeskiet om die happie nader te trek.
Estian Wespe het homself boeglam geskrik toe die padda se tong skielik om sy lyf krul. Hy het die wye mond sien oopgaan en sy hart het benoud in sy bors getamboer. Net toe hy dog dis neusie verby met hom, kry hy dit reg om sy lyf so te draai dat hy die ongedierte op haar onderlip steek.
“Eina!” Petra Padda los Estian Wespe asof hy ‘n warm patat is.
“Waarom wil jy my eet?”
“Ek dog jy if ‘n vlieg.” Petra Padda se lip begin sommer dadelik opswel en sy sukkel om ‘n ‘s’ gesê te kry.
“Gmf! Lyk ek dalk soos ‘n vlieg?”
“Natuurlik nie, maar ek het net jou fkaduwee gefien en toe mifgif ek my. Ek if baie jammer. Ek hoop nie jy het feergekry nie.”
“Ek hoop jy hét seergekry!”
“Sies!” Die stem kom van êrens bokant hulle koppe. “Jy het mos nou ‘n verskoning gekry. Waarom is jy dan nou nog so knorrig?” Nollie Naaldekoker bly net hier bokant hulle koppe hang sonder om te gaan sit.
“Wie het jou opinie gevra?”
“Ek hoef nie vir my opinie gevra te word nie. Ek gee dit sommer verniet weg. Dis pasella, Mahala, gratis.”
Estian Wespe verwonder hom aan die vreemde string woorde. Dis seker nou weer een van daai tuinbewoners wat dink hulle is waffers slim, besluit hy. Die naaldekoker moenie dink dat hy wat Estian Wespe is, hom so maklik sal laat beïndruk nie. “Dis nie te sê ek wil jou opinie hê nie.”
“Aha! maar dan hoef jy dit mos nie te hou nie. Dis nie asof jy daarvoor betaal het nie.”
Estian Wespe kan nie onmiddellik ‘n antwoord hierop kry nie. Dit is ook nie aldag dat jy iemand teëkom wat nie dink dat almal moet glo soos hy glo nie. Hoe stry jy dan nou ook met iemand wat nie daarop aandring dat jy met hom saamstem nie? Hy is nog besig om sy woorde te kies, toe Nollie Naaldekoker skielik hardop aan die lag gaan.
“Wat if fo fnaakf?”
“Julle twee! Hier sit julle nou albei ewe dikbek.” Hy bars weer uit van die lag.
Die twee bekyk mekaar vies. Estian Wespe sit met ‘n diep frons en twee opgeblaaste wange van verontwaardiging. Petra Padda se mond is nou al so dik geswel dat dit lyk asof sy ‘n groot lekker in haar mond het. Skielik begin die hele ding vir hulle ook snaaks lyk. Nie lank nie of hulle lag net so lekker saam.
Toe sy lagbui uiteindelik bedaar, besluit Estian Wespe om vrede te maak. “Jy’t my darem nie ingesluk nie.”

“Gelukkig nie. Anderf het jy my dalk in die maag gefteek en dan het ek deur die lug gevlieg foof ‘n ballon wat afblaaf.” Die drie gaan van vooraf aan die lag oor die prentjie wat hulle in hulle koppe sien.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy her books here:You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment